Party het gesê: “Ons moes vanweë die hongersnood ons lande, ons wingerde en ons huise verpand om koring in die hande te kry.” (vers 3)
Een van die gevolge van die saamwerk aan die muur was dat die skreiende ongelykheid in die gemeenskap nie langer verdra kon word nie. Die verskil tussen ryk en arm het gedreig om die brose volk uitmekaar te skeur. En, besef Nehemia tereg, net die rykes kon iets daaraan doen (vers 7). Hulle was immers vir ’n deel van die onreg verantwoordelik, want hulle het die ellende van die armes uitgebuit om nog meer in te palm. Selfs Nehemia was skuldig aan dié situasie (vers 10).
Om die saak reg te stel, het Nehemia die voorbeeld gestel (vers 11).
Ons leef in ’n land waar die verskil tussen ryk en arm van die ergste in die wêreld is. Ons sien dit in die stede by elke verkeerslig: bedelaars wat bakhand staan. Hulle klop aan ons deure. Hulle pleit vir iets om te eet. Landgenote van ons.
Nehemia wys ons dat jy nie net jou skouers daaroor kan optrek nie. Dis nie die armes alleen se probleem nie; dis ons almal s’n. As gelowiges durf ons nie anderpad kyk nie (Matt 25:31 e.v.).
Views: 17