Genesis 4:19-24
’n Klompie jare gelede het ’n insident in die Skiereiland die land geskok. ’n Motoris het ’n ander motoris met ’n hokkiestok doodgeslaan omdat hy aanmekaar vir hom getoet en sy ligte geflits het. Iemand vermoor omdat hy jou kwaad gemaak het?
Ada kyk verskrik op toe sy haar man se bebloede hande sien. “Lameg! Wat het gebeur? Het jy seergekry?”
Lameg skud sy kop vererg. “Dis daai klein niksnuts van ’n Erok. Hy het sowaar as wragtag vir my met ’n klip gegooi. Kyk hier,” beduie hy na ’n kneusplek op sy bobeen.
“Ag nee! Wat sal die kind besiel het?” wil Silla, Lameg se ander vrou, weet.
“Ek weet nie, maar hy sal dit nie weer probeer nie. Ek het hom vrekgemaak met hierdie twee hande van my. Ek laat niemand met my sukkel nie. Nie ék nie.”
“Lameg! Hy is maar net ’n kind,” sê Ada sag.
Lameg skud sy kop en swaai sy vinger dreigend na sy vrouens se kant toe. “Luister julle twee vandag na my, en luister goed: ’n mens wat met my sukkel – of hy nou oud is of jonk, traak my nie – vir hom maak ek net daar op die plek vrek.” Hy slaan met ’n bebloede vuis teen sy bors as hy byvoeg: “My oor-oupagrootjie Kain is sewe maal gewreek, maar ek is tien maal meer van ’n man as wat hy was. Ek wreek my sewe en sewentig maal. Ek, Lameg, vat nie nonsens nie, en klaar!” Toe draai hy om en stap kop-in-die-lug af rivier toe om die bloed van sy hande te gaan afwas.
Ons kom almal in situasies waar ons voel genoeg is genoeg, en die man moet op sy plek gesit word. Onthou dan dat die Here Jesus ook van sewentig maal sewe keer gepraat het – maar dan nie van wraak nie, maar van vergifnis (Matteus 18:22).
Views: 40