Hoe kan ek die twee skeppingsverhale in Gen 1 en 2 met mekaar rym?
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Gen 1:26-27Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.
Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon.
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
Gen 2:7-8 en 18
As jy Gen 1 en 2 langs mekaar lees, is daar opmerklike verskille in die verhale. In Gen 1 is die skepping van die mens (vers 26-30) die laaste daad en hoogtepunt van die skeppingsverhaal. In Gen 2 is die mens die middelpunt van die skeppingsverhaal, en alles wat God gemaak het, het Hy gemaak ter wille van die mens se voortbestaan (vers 7-8). Uit Gen 1 lyk dit of God die man en vrou saam geskep het (1:27), maar volgens Gen 2:18 is die vrou eers later geskep.
Dit is duidelik dat ons hier met twee verskillende weergawes van die skeppingsverhaal te make het. Dit kom uit twee verskillende oorde of bronne. Dit sien ons uit die feit dat Gen 1 deurgaans na die Skepper as “God” verwys, terwyl Hy in Gen 2 weer deurgaans “Here God” genoem word.
Klaarblyklik het die samesteller(s) van die boek Genesis hierdie twee verhale gehad om mee te werk, en in plaas daarvan om net een verhaal te gebruik en die ander een weg te laat, voeg hy albei in sy boek in sonder om hulle met mekaar te probeer versoen. God se skepping is immers gans te groot om die vertelling daaroor in te kort!
Nou sit ons met twee verskillende verhale wat mekaar aanvul en verryk. Dis soos twee skilderye van dieselfde toneel, geskilder deur twee verskillende kunstenaars. Elke kunstenaar het ’n eie kyk na wat voor hom of haar lê, en vang dit op doek vas. Kennelik dieselfde toneel, en tog heeltemal verskillend.
Views: 63






