Amasia het ’n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas, seun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar.” (vers 8)
Ons kry ’n beter prentjie van wat hier gebeur in 2 Kron 25. Daar lees ons dat Amasia, om Edom aan te val, ’n honderd duisend soldate van Israel gehuur het. Ná ’n Goddelike waarskuwing stuur Amasia die Israeliete huistoe. Die huursoldate was nie gelukkig met dié verwikkeling nie, en het dit op die mense en stede van Juda uitgehaal. Drie duisend mense is dood, en baie gebuit.
Nou soek Amasia wraak. Dié oorlog loop lelik skeef vir hom. Dit het hom geld en aansien gekos, en gewildheid. Hy sterf uiteindelik eerloos, vermoor deur sy eie mense (vers 19).
Amasia se probleem was dat sy aanvanklike suksesse na sy kop gegaan het. Hy het gedink hy kan die wêreld oorwin. Verder het hy baie selektief met die Bybelse voorskrifte omgegaan. Ooreenkomstig Deut 24:16 straf hy nie die kinders van sy pa se moordenaars nie. Maar Deut 23:7 stipuleer ook dat die Edomiete Israel se bloedverwante is en nie weggestoot mag word nie. Daaraan het hy hom nie gesteur nie.
Die héle Bybel is God se woord aan ons; nie net dié verse wat ons pas nie.