“So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is ’n berggod, Hy is nie ’n god van die vlaktes nie,’ gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (vers 28)
Dis ’n vreemde verhaal, waarin ’n profeet (of dit dieselfde man was, weet ons nie; dit was egter nie Elia nie) telkens aan koning Agab die Here se leiding oorgedra het. Die gebeure moes daarop uitloop dat Agab én Ben-Hadad besef dat die Here in beheer is (vers 13 en 28).
Deur die Here se toedoen behaal Agab twee magtige oorwinnings, en Ben-Hadad word verpletterend verslaan. Tog gee Agab nie aan die Here die eer nie. En al “les” wat Ben-Hadad geleer het, is dat Agab ’n gawe man was.
Die verhaal laat my wonder hoeveel geleenthede ekself al onbenut laat verbygaan het, waar ek nie aan die Here die eer gegee het wat Hom toekom nie. Waar ek stilgebly het toe ek moes praat oor sy grootheid, of waar ek die eer vir myself gevat het.
Jesus sê immers (Matt 5:16): “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”