Koning Josia het aan die hoëpriester Gilkija, aan die priesters net onder hom en aan die drumpelwagte opdrag gegee om uit die tempel van die Here al die goed te bring wat vir Baäl en Asjera en al die hemelliggame gemaak is. (vers 4)
Hoe verder ’n mens lees, hoe meer kom jy onder die indruk van die totale verval van die godsdiens. Daar was haas nie ’n enkele deel van die land wat nié deur en deur verrot was nie (amper soos dit deesdae in ons land gaan!). En ten spyte van Josia se beste pogings kon hy nie die godsdienste en sedelike verval keer nie, soos duidelik word uit die optrede van die konings wat ná hom gekom het. Daarom het God se oordeel oor die Judeërs vas bly staan (vers 26-27).
As ’n mens jou eers oorgee aan die ongeloof, is dit ’n afgrond waarin jy stort wat jou al dieper intrek. Daarom lees jy die laaste tyd al hoe meer van teoloë wat sê hulle is nou post-Christelik; hulle is verby die Christelike geloof en klaar met Christus. Dit is ’n bodemlose put waaruit daar skynbaar nie gekom kan word nie.
Net God kan dit doen deur Jesus Christus die Here (vgl. Rom 7:24).