Terwyl Saul in Gibea op ’n hoogte onder ’n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. (vers 6)
Saul se jaloesie en agterdog het gemaak dat hy nêrens meer veilig voel nie. Daarom, al is al sy amptenare by hom, het hy ’n spies in sy hand. Die vorige hoofstukke vertel dat hy nie skaam was om dié spies te gebruik nie. Twee maal wou hy Dawid daarmee deurboor (1 Sam 18:11 en 19:10), en een maal selfs sy eie seun (20:33).
Dit dryf hom ook verder. Hy laat al die priesters van Nob én hulle gesinne vermoor (vers 18 en 19). Niks was vir hom heilig nie. Hy het finaal met God gebreek.
Jaloesie wat ongehinderd in ’n mens voortwoed laat jou alle perspektief verloor. Spreuke 27:4 waarsku: “Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is ’n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemand opgewasse nie.” Dis een van die mees destruktiewe emosies. Daarom beveel 1 Pet 2:1 tereg dat ons met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery moet stop. Dit pas eenvoudig nie by ’n gelowige nie.
Views: 5