In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda […] het Ewil-Merodak, wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat. (vers 27)
Wat ’n troostelose einde van die eens roemryke stad! ’n Mens kan dit nie sonder ’n diepe pyn in jou hart lees nie. Uiteindelik was daar niks oor van die stad of die mense van Juda nie. Die laaste mense van aansien het Egipte toe gevlug. Daar was niemand oor om die land te bewaar vir die toekoms nie.
Al die simbole van Jahwe se teenwoordigheid is weggevat Babel toe: die tempelgereedskap, die koning, die leiers, die priesters. God se oordeel het daarvoor gesorg.
Tog kan ’n mens steeds op Jahwe bly hoop. Daarom sluit die boek af met die berig dat Jojagin uit die tronk vrygelaat is. Sy ballingskap is nie beëindig nie, maar tog verteenwoordig hy die belofte van God aan Dawid. Sy naam duik later in die Bybel weer op waar hy gelys word as een van die voorsate van die Here Jesus (Matt 1:12).
Hoop lê nie in ’n land of stad of ’n tempel nie, maar in die lewende God wat met ons besig bly.
Naskrif: Môre begin ons DV met die boek Amos.
Views: 13