Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. (Heb 3:13)
Ek het as kind in die Transkei gewoon, waar my pa sendeling was. Daar was baie lidmate in sy gemeente wat nie kon sê hoe oud hulle is nie. Maar dit was nie vir hulle belangrik nie. Wat vir hulle belangrik was, was die feit dat hulle gesond is en lewe.
Dis ook waar van ons geestelike lewe. Die vraag: “Presies wanneer het ek ’n kind van God geword?” is tog nie die noodsaaklike vraag wat ons moet kan beantwoord nie, maar: Is ek vandag ’n gelowige? Is Christus vandag vir my ’n werklikheid?
In ons lewe voor die Here help dit jou nie om jou te beroep op jou destydse bekering en jou destydse geloof, en meen dit sal genoeg wees om jou huidige gebrek aan toewyding uit te kanselleer nie. Vir die Hebreërskrywer is dit juis die dodelike erns van ongeloof. Die geloof is ’n pad, en ’n mens moet daarop bly, saam met die Godsvolk, deur die woestyn, op weg na die belofte, anders val jy uit. Dit is waaroor die skrywer ons waarsku.
Views: 13