Ambisie is ’n wonderlike ding. Dit kan jou aanspoor om groot hoogtes te bereik. Maar dit kan ook gevaarlik wees, want dit kan jou oordeel aantas, soos met Aäron gebeur het toe hy ter wille van gewildheid die Israeliete hulle sin gegee het.
Die volk raak rusteloos. Moses het nou al byna ses weke gelede in die wolk op die berg verdwyn. Elke dag kyk hulle na die berg, hoop hulle om sy bekende figuur teen die helling te sien afkom. Maar niks.
“Waar bly jou broer so lank?” wil meer as een by Aäron weet.
“Hoe moet ek weet?” antwoord Aäron bot. Hy begin so stadigaan moeg raak vir die mense wat van hóm antwoorde vra.
’n Jongerige man skud sy kop. “Ek sê vir julle, Moses gaan nie weer terugkom nie. Wie kan vir ses weke sonder kos of water daar bo op die berg oorleef? En waar is die Here miskien noudat ons Hom nodig het? Wys Hom vir ons, dan sal ek dit glo.”
“Hy is daar bo op die berg, in die wolk.”
“Sê wie? Jou dierbare boetie Moses met sy Egiptiese paleismaniertjies? Nee, ek wil met my eie oë sien dat ons god by ons is. Ek wil dit nie maar net raai en hoop nie.”
Aäron hou sy hande op. “Bedaar, mense. Dit sal ons nêrens bring as julle hier op my staan en skree nie.”
“Nou maar dan moet jy iets aan die situasie doen.”
Aäron wil eers kwaad raak, maar dan bedink hy hom. ’n Plan het in sy kop vorm aangeneem. Hier is sy kans om die leisels oor te neem. “Goed,” sê hy en sprei sy hande versoenend oop. “Gee vir my julle vrouens en kinders se goue oorringe, dat ek vir julle ’n beeld kan maak wat julle kan sien.”