Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word. (vers 32)
Die spanning in Jesus se kring begin oplaai. Hulle is op pad Jerusalem toe vir die paasfees, en Jesus het al by twee vorige geleenthede (Mark 8:31; 9:31) vir hulle gesê wat op Hom wag. Die dissipels is bang en rem terug, maar Jesus beur vooruit. Hy is óók bang, maar skram nie weg nie, want die wil van die Vader staan vir Hom voorop.
In dié gelade tyd dink die dissipels nie aan Jesus nie, maar aan hulle eie posisie (vers 37). Vir hulle gaan dit nie oor God se wil nie, maar hulle eie.
Ek wonder of ons regtig goed begryp dat God ons roep om navolgers te wees, nie konings nie. Navolgers wat Jesus se passie vir God se wil moet deel, en worstel met die vraag: wat wil Gód hê? Waar kan ek vir Hom werk en leef?
Ons moenie onsself bedrieg en dink dis genoeg om aan die kerk te behoort nie. Die Here roep ons om ons kruis op te neem en om Hom te volg (Mark 8:34).
Views: 14