Ek het die dag my goed wat ek in ballingskap sou wou saamvat, uitgebring en die aand het ek met my hande ’n gat deur die muur gebreek. Ek het in die donker vertrek … (Eseg 12:7)

Hierdie simboliese handeling sluit aan by die vorige een, waar Esegiël Jerusalem moes beleër (Eseg 4). Dis ’n uitbeelding van wat in Jerusalem sou gebeur. Ons weet dat koning Sedekia inderdaad deur ’n gat in die stadsmuur probeer ontsnap het, met rampspoedige gevolge (vers 10, vgl 2 Kon 25:3-7).
Met hierdie sigbare preek wou God hulle die realiteit van die naderende val van Jerusalem laat insien, maar hulle sien en glo net wat hulle wou sien en glo. God sê herhaaldelik dat hulle ’n weerbarstige volk is (vers 2, 9, 25). Selfs die profetestem maak hulle af as maar net praatjies waarvan niks sal kom nie (vers 22).
Ons leef in ’n tyd waarin mense die skouers optrek oor die werklikheid van God se teenwoordigheid, en oor die wederkoms. “Dit is maar net die praatjies van naïewe, pre-moderne mense. Vandag weet ons beter,” sê hulle. Oppas vir dié vals redenasie. Iemand wat só redeneer, is soos ’n slegte slaaf, sê Jesus (Matt 24:48).
Kom ons bly aan die werk (Matt 24:46)!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.