Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met ’n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word. (vers 2)
Onder “prostituut” moet ons waarskynlik eerder verstaan “egbreekster”. Dit was eers ná haar eerste kind se geboorte dat Gomer ontrou geword het en twee buite-egtelike kinders gehad het. Só was Hosea se huwelik met Gomer simbolies van God se liefde vir sy volk Israel, en Israel se ontrou aan Hom.
Die boodskap van die boek is dat Israel se ontrou ’n diep pyn in God se hart veroorsaak.
Dis vir ons moeilik om te begryp dat God só ’n verskriklike opdrag aan sy dienaar Hosea kon gee. Arme Hosea! Maar die boodskap is dat dit presies is wat mense se ontrou aan God doen. Mense skuif Hom uit as onbelangrik, en gee so hulle enigste hoop op die lewe self prys.
Ons moet ook onthou wat Jesus gesê het van ons kruis opneem en Hom volg. Hy het ons nie ’n luilekkerland belowe nie. Sy roeping impliseer offers en selfs vernedering. Per slot van rekening is ons lewens in sy diens, en Hy sal ons gebruik soos Hy die beste weet.