Daarom, kyk, Ek gaan haar oorhaal, haar na die woestyn laat gaan, en mooi met haar praat. (vers 13, 2020-vertaling)
In die eerste 12 verse van die hoofstuk spel die Here die implikasies uit van Israel se ontrou teenoor Hom. ’n Mens hoor die pyn in God se hart; die onverstaanbare dat Israel Hom verlaat het ondanks alles wat Hy vir haar gedoen het (vers 7). Israel het alle brûe terug na God verbrand met hulle geloofsontrou, en verdien om soos ’n egbreekster verneder en tot skande gemaak word.
As vers 13 begin met “daarom”, sou ’n mens verwag dat God nou die finale oordeel gaan aankondig. Sy gaan in die woestyn omkom. Maar dis nie wat gebeur nie! God gaan nuut begin met hierdie ontroue bruid van Hom; haar liefde terugwen (vers 14). Verstommend.
Partykeer voel dit vir jou God het jou die rug toegekeer en in die woestyn gelos. Maar die woestyn is nie om jou te straf nie. Dis daar sodat jy Hom opnuut kan ontdek, en kan besef dat al die dinge waarop jy steun, waardeloos is. Net God kan regtig sorg, ook vir jou.
Dit herinner aan Jesus se saligsprekinge (Matt 5:3): “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is …”