Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan … (vers 21)
Anders as in Matteus en Markus word Johannes die Doper glad nie in Lukas genoem met Jesus se doop nie. Lukas gee ’n ander stukkie inligting: Jesus het gestaan en bid toe die hemel oopgaan. Dit is van die begin af een van Jesus se gebruike: om by belangrike momente in sy lewe te bid. Dis sekerlik ’n gebruik uit Jesus se lewe wat ons behoort na te volg.
Waar die verhaal van Jesus in die eerste twee hoofstukke op Jesus se eg-menslike begin gefokus het, val die klem in hoofstuk 3 op Jesus se Goddelikheid. Dit begin al duidelik word uit Johannes se antwoord in vers 16 dat Jesus sy meerdere is wat ver meer as Johannes sal doen. Met Jesus se doop word dit nog duideliker wanneer die Vader uit die hemel oor Jesus as sy Geliefde getuig (vers 22). En uiteindelik neem die geslagsregister ons via koning Dawid terug na God self.
Jesus is waarlik God wat mens geword het. Dis in Hóm wat ons glo en vir Wie ons volg!
Views: 30