Hy moet sy hand op die kop van die brandofferdier lê sodat dit namens hom aanvaar kan word om oor hom versoening te doen. (vers 4, 2020-vertaling)
Offers soos dit in Ou Israel gegeld het, is vir ons vandag ’n heeltemal vreemde gedagte. Vir die Israeliete was dit nie vreemd nie; trouens, in die Ou Nabye Ooste was dit ’n algemene gebruik. Die gedagte agter die offer was dat jy die dier in jou plek vir God aanbied, wel wetende dat jou skuld voor God só is dat jyself eintlik met jou lewe daarvoor moet betaal. God bied dus ’n uitkoms deur offerdiens in te stel, want só kan jy weer vry wees voor Hom.
Die offer het hard met die aanbidder gepraat. Hy moes die dier keelaf sny (vers 5) en beleef hoe die dier doodbloei. Die dier het baie gekos. Dit het hom herinner dat sy vergifnis duur is.
Ons sukkel dikwels om die erns van sonde te besef, want ons raak so maklik daarvan ontslae. Net ’n paar woorde in gebed, en dis afgehandel, kan jy dalk dink. Maar as jy so dink, vergeet jy dat daar vir jou sonde ook ’n offer gebring is – God se heel beste. Sy Seun. Vergifnis is baie, baie duur.
Views: 16