Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees. (vers 45)
Die reëls oor wat jy mag eet en wat nie, is vir ons moderne Christene soms baie vreemd en selfs onverstaanbaar. Daar het egter twee redes agter dié reëls gelê: dit het om gesondheid gegaan in ’n tyd toe mediese praktyke heeltemal ontoereikend was. Maar die tweede, belangriker rede, was dat Israel in hulle alledaagse lewe deur hulle optrede en voorkeure anders as die ander volke moes wees. Hulle was ’n unieke volk wat aan die heilige God behoort het, en dit moes in alles sigbaar word; ook in wat hulle geëet en vermy het.
Só het hulle rein gebly, en kon hulle die Here in sy heiligdom aanbid.
Ons het nie vandag dieselfde reëls oor kos nie. Jesus het gesê dis nie wat by ons mond ingaan wat ons onrein maak nie, maar wat by ons mond uitkom (Matt 15:11; vgl ook Hand 10:15). Maar daarmee sê Hy dat ons ook onrein kan word, nie deur wat ons eet nie, maar deur ons optrede en woorde. Dit moet ons steeds onderskei van die wêreld (vgl 1 Pet 2:12).
Views: 14