Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So ’n man behoort nie te bly lewe nie!” (vers 22)
Ek sou graag die res van Paulus se verdediging wou hoor, maar daarvoor het die Jode ’n stokkie gesteek. Dis vandag nog so. Mense wil net hoor wat hulle wil hoor; dinge wat hulle eie verstaan van die lewe ondersteun. Min mense is werklik oop vir nuwe dinge, en as dit by godsdiens kom, is Satan boonop gretig om sulke mense se ore verder toe te stop.
Ek het op ’n stadium met mense op Facebook probeer redeneer omdat ek gedink het ek behoort my stem as gelowige daar ook te laat hoor. Dit het my baie moedeloos gemaak. My “gespreksgenote” het my probeer belaglik maak. Een verregse Christen het my selfs as ’n ketter hel toe verdoem. Baie soos wat Paulus hier beleef.
’n Uitspraak van die Here Jesus het my tot rus gebring: “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” (Matt 7:6) Partykeer kan ’n mens met gerustheid ophou praat en God vertrou om sy saak te veg.