Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. (vers 21)
Die Groot Versoendag sê onmisverstaanbaar: Sonde kan nie sommer weggewens word nie. Ons kan nie voor God bly leef solank ons sonde het nie, want God haat sonde.
Die wonder van God se genade is dat Hy vir ons ’n weg uit ons sonde en terug na Hom gebaan het. Dit was die betekenis van die offers wat die hoëpriester moes bring. Die offerdiere se bloed het gevloei, sodat húlle bloed nie vergiet sou word nie.
Wat ons ook moet raaksien, is dat sonde nie sonder ’n belydenis van skuld uitgewis word nie. Ons moet dit erken en bely – nie sommer so terloops nie, maar elke sonde by die naam (vers 21). Aäron moes al die skuld van die volk bo-oor die sondebok bely, en die bok dan wegjaag, sodat die bok die sonde saam met hom wegvat. Dis heeltemal anders as moderne sondebokke waar ons ons eie skuld ontken en ander die skuld gee.
God se Sondebok (Joh 1:29) sal ook óns sonde wegdra, maar dan moet ons ophou om die skuld op ander te pak.
Views: 29