Hand 15:36-41
“Ek het gedink ons moet weer ’n sendingreis aanpak,” val Paulus met die deur in die huis.
Barnabas is dadelik te vinde. “Ek skryf sommer vandag nog ’n brief vir Markus.”
“Nee, hy gaan nie saam nie,” sê Paulus kalm.
“Maar hy het anderdag vir my gesê hy is nou gereed vir die uitdagings en die ontberings wat ’n sendingreis stel, en ek stem saam. Hy verwyt homself baie omdat hy destyds halfpad omgedraai het.”
“Watwou halfpad. Ons het skaars begin!” ontplof Paulus. “Ek kan nie glo jy wil hom weer saamvat nie. Ek het hom gesmeek om ons nie in die steek te laat nie, maar hy wou nie hoor nie.”
Barnabas knik. “Ek onthou. Jy het nog gesê as hy omdraai, gaan jy hom nie weer ’n kans gee nie, maar jy was verkeerd. My nefie verdien nog ’n kans.”
“Hoe kan jy so sê? Ek het hom gesoebat en gesmeek, maar nee, mamma se seuntjie spring op die eerste die beste skip terug huis toe, en ons moet maar sien kom klaar. Jou dierbare nefie het soos ’n sleg hond gedros!”
“Ek hou nie van die manier waarop jy van hom praat nie,” sê Barnabas skerp.
Paulus spring op. “En ek hou nie van hom nie. Hy het sy eie getuigskrif geskryf, en daarop staan in vet letters: ONBETROUBAAR.”
Barnabas haal diep asem om kalm te word. “Mense kan verander, Paulus. Markus het verander. Hy sal ons nie weer in die steek laat nie.”
“Nee, hy sal nie, want hy gaan nie weer saam nie.”
Paulus was verkeerd oor Markus. Danksy Barnabas se ondersteuning en aandag het Markus ’n wonderlike werktuig van Christus geword. Ons moet nooit, soos Paulus, die genadewerk van God in ’n mens se lewe onderskat nie. Mense kán verander. As dit nie waar was nie, sou ek en jy nooit kon glo nie.
Hits: 11