Joh 1:19-28
 
Johannes die Doper ken hulle sommer dadelik tussen die ander uit: manne met ’n doelgerigte stap, nie soekend soos die ander nie, nie in ootmoed oor hulle sondige lewens nie, nie smagtend na die koms van die koninkryk van God nie, maar skepties; heeltemal ongeroer deur sy woorde, manne met ’n sending.
 
“Wie is jy?” vra hulle segsman bot, uit die hoogte. “Wie gee jou die reg gee om die hele volk in beroering te bring? Wat is jou plan?”
 
Johannes glimlag vriendelik. “Julle wil weet of ek die Gesalfde is, die Messias.”
 
Die segsman knik. “Ja. Dis wat ons kom uitvind het.”
 
“Nou maar dan kan ek julle gerusstel, Menere: ek is nie die Messias nie.”
 
“Maar wie is jy dan? Is jy Elia?”
 
Johannes skud sy kop. “Nee, ek is nie.”
 
“Is jy dan die Profeet?”
 
“Nee.”
 
“Nou maar wie is jy dan? Jy is nie die Messias nie, jy is nie Elia nie, jy is nie die Profeet nie. Ons kan tog nie dít vir die Joodse Raad gaan rapporteer nie! Ons moet tog meer kan sê as dit wat jy nié is nie. Wat het jy oor jouself te sê?”
 
“Ek is ’n stem. Sê dit vir julle base. Ek is net ’n stem.”
 
Johannes die Doper was, in die woorde van die Here Jesus self, die grootste profeet van almal (Matt 11:11), maar as hy oor homself praat, merk ons geen sweem van selfbelangrikheid nie. Hy is maar net ’n stem, nie eens werd om Jesus se skoene los te maak nie (Joh 1:27). Sy grootste droom is dat Jesus meer word, en hy minder (Joh 3:30).
As jy naby God leef, gebeur dit met jou ook. Nederigheid is immers vrug van die Gees (Gal 5:23).
image_pdfimage_print

Views: 38

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.