2 Samuel 13

“Ek kan nie meer by my susters in die paleis bly nie,” sê Tamar, haar stem koud en dood. “Ek is … gebruikte goedere.” Sy sit in rougewaad op ’n bankie in die paleis se agterplaas, met stof op haar kop.

“Die vark! Ek maak hom vrek,” brul Absalom sy woede en ontsteltenis oor sy suster uit. Hy vat haar teer om die skouers. “Toemaar, Sussie. Jy kan by my kom bly. En moet jou nie oor Amnon bekommer nie. Pa gaan slange vang as hy uitvind wat gebeur het. Ek is seker hy sal dit nie daar los nie. Amnon sal hierdie dag nog berou, jy sal sien. Hy gaan boet. Gee maar net kans.”

Dawid ís ook woedend toe hy van alles hoor, maar hy doen niks.

Absalom wag twee jaar dat sy pa aan Tamar se saak aandag gee, maar wat die koning betref, is die hele insident verby en vergete.

Koning Dawid was ’n begaafde man: ’n goeie koning, ’n uitsonderlike strateeg, ’n briljante veggeneraal, ’n wonderlike digter, ’n geloofsheld, die man na God se hart. Maar Dawid was ’n vrot pa. Sy seuns het die een ná die ander sleg uitgedraai – Amnon, die oudste, verkrag sy eie halfsuster; Absalom vermoor sy halfbroer Amnon, en later lei hy die staatsgreep teen sy pa; Adonia roep homself as koning uit …

Dawid was sonder twyfel baie lief vir sy seuns (minder so vir sy dogters?), maar hy het hulle nie getug nie. Lees gerus 1 Konings 1:6! In Spreuke 22:15 staan nie verniet nie: “Onverstandigheid is eie aan ’n jongmens, maar ’n pak slae haal dit uit hom uit.”

Dawid se lewe is ’n blywende waarskuwing aan ons almal: ’n Goeie pa (of ma) gee nie net liefde nie. Hy gee homself, sy tyd, sy energie, om sy kinders te vorm.

image_pdfimage_print

Views: 40

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.