Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” (vers 23)
Jesus het na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek (vers 21), waarskynlik om weg te kom van die gedrang van die mense, sodat Hy in rustigheid met sy dissipels besig kon wees. Maar toe kom ’n vrou daar aan, en sy roep aanhoudend: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid!”
Dis tóé dat die dissipels na Jesus toe loop en reguit vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” Hulle hoor nie die vrou se noodroep nie. Vir hulle was dit ’n geskreeu, ’n lastige stoornis. Hulle wil by die Here wees, na sy woorde luister, maar dis moeilik as iemand agter hulle loop en skreeu. Sy verstoor hulle waar hulle rustig besig wil wees met die dinge van die Here.
Partykeer wonder ek oor ons wat so graag die rustigheid en die stilte van die huis van die Here opsoek. Wat maak óns met die geroep van hulle om ons? Hoor ons hulle roep, of is dit net ’n lastige geskreeu in ons ore?
Views: 12