Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. (vers 19-20)
Ons liggame is nie ons eie om daarmee te maak wat ons wil nie. Dit was ’n tipiese Griekse denkfout dat jou liggaam slegs ’n dop is wat jou siel huisves. Jou siel is belangrik, so is gesê, maar jou liggaam het niks met jou siel te make nie. Jy kan daarmee doen soos jy lus kry.
Verkeerd, sê Paulus. Jou liggaam is deel van wie jy is. Jy kan nie liggaam en siel skei nie. En buitendien is jou liggaam nie jou eie nie. Dit behoort aan God. Hy het duur daarvoor betaal, sodat sy Gees in jou liggaam kan woon.
Wat jy met jou liggaam doen, het dus alles te make met jou lewe as gelowige. ’n Losbandige lewe, ’n lewe van oordaad, die verwaarlosing van jou gesondheid – dit alles is uit vir die gelowige, want jy, met jou liggaam en al, is God s’n.
Views: 19