Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ’n man wat nie bruilofsklere aan het nie … (vers 11)
Die lot van die man sonder bruilofsklere aan skreeu teen die koning se uitnodiging. Die koning wou ten alle koste sy bruilofsaal vol hê. Enige iemand was welkom, slegtes én goeies, en mense van die straat af. Hoekom was die man sonder ’n bruilofskleed dan nie welkom nie?
Die antwoord lê waarskynlik daarin dat die man wel die uitnodiging aanvaar het, maar dit nie nodig geag het om hom paslik vir die bruilof aan te trek nie. Daarmee het hy gewys dat hy nie die koning en sy uitnodiging geëer het nie. Hy het gedink hy kan op sy eie voorwaardes aan die feesmaal deelneem.
Jesus het dikwels oor dié saak gepraat. Kyk gerus na Matt 7:21, Luk 8:13 en 9:62. Jy kan nie deel van God se fees wees én jou eie ding wil doen nie. Die Here eis onverdeelde trou aan Hom, sê Hy in die tweede gebod (Eks 20:5). Jesus stel dit só in Matt 22:37: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”
Heelhartige navolgers. Dis wat ons moet wees.
Views: 12