Al doen die sondaar ook hoeveel kwaad en leef hy nogtans lank, ek weet: met die vromes wat vir God dien, sal dit goed gaan; met die goddelose wat nie vir God dien nie, sal dit nie goed gaan nie. Soos ’n vlugtige skaduwee wat gou verdwyn, sal die goddelose nie lank lewe nie. (vers 12-13)
Ons perspektief is dikwels so aardgebonde. Ons sien wat op aarde gebeur, en sien die goed raak wat die Prediker uitlig: onreg, goddeloosheid, dwaasheid – hierdie dinge tel op aarde nie soveel soos ons meen dit behoort te tel nie. Daarom gebeur dit nie noodwendig dat die wyse mens, of die vroom mens, ’n voorspoediger of langer lewe het as die verkeerde mens nie. Dis gewoon hoe die lewe is. Dis nie regverdig nie, en dit maak dat ons ingeloop voel.
Vanuit ’n ewigheidsperspektief lyk dinge egter heeltemal anders. In die ewigheid sál daar ’n verskil wees, want die goddelose sal dit nie daar maak nie.
Dis gewoon kortsigtig om die lewe, ook jou eie lewe, vanuit ’n aardse perspektief te beoordeel. In die groter prentjie sál jy as gelowige Gods guns geniet. So, byt vas, dien God, en geniet sy gawes (vers 15).
Views: 38