In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af. (vers 11)
Ná ’n verblyf van meer as ’n jaar by Sinaï, breek die tyd aan dat Israel haar reis na Kanaän voortsit. Dit moes nie ’n baie lang reis wees nie, maar dit het uiteindelik in ’n fiasko ontaard wat veertig jaar sou duur (Num 14:34).
Op aandrang van Moses gaan sy swaer Gobab saam (vers 29). ’n Mens wonder hoekom Moses sy dienste as gids nodig sou hê as God hulle reis bepaal het. Dalk skemer hier ’n stukkie kleingeloof deur? Of dalk het Moses geoordeel dat God se leiding nie die hulp van mense uitsluit nie. Dit is tog so dat die Here dikwels juis deur ander mense vir ons help en lei.
Die trek deur die woestyn verloop met militêre presiesheid, maar, uit ’n ander hoek gesien, is dit ook ’n godsdienstige prosessie onder leiding van die Here self. Daarom die dubbelsinnige gebed van Moses aan die einde. In vers 35 klink sy gebed soos ’n krygskreet, terwyl vers 36 getuig van die rus wat God se teenwoordigheid bring.
Ons kan ook onverskrokke op Christus se spoor loop, én ons rus in God vind.