Die Here is goed, Hy is ’n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. Maar met ’n vloed wat alles meesleur, vee Hy die plek weg waar Nineve lê, jaag Hy sy vyande die duisternis in. (vers 7-8)
Die wêreldmoondheid van Nahum se tyd, die Assiriërs, word allerweë beskou as van die wreedste onderdrukkers van alle tye. Hulle het die Noordelike Ryk van Israel van die aardbol gevee. Hulle het hulle mag deur vrees behou.
Die eerste profeet wat Assirië en die hoofstad Nineve in die oog gehad het, was natuurlik Jona, wat meer as ’n eeu voor Nahum opgetree het. Toe het die mense van Nineve hulle bekeer (Jona 3), maar dit was net tydelik.
Nahum se profesieë waarsku die Assiriërs dat hulle mag nie vir altyd sal duur nie. God verdra die sondaar, maar daar is ook perke aan sy geduld, en die Assiriërs het dié perke oorskry (vers 3).
Vir ons vandag is die boodskap: God is liefdevol en genadig, maar Hy is veel meer as dit. Hy is ook regverdig en haat sonde. Ons durf nie met sonde speel of dit verdra nie, maar dié wat by Hom skuil, kan hulle koester in God se almag en goedheid (vers 8).
Views: 18