“Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” (vers 14)
Josua 5 vertel vir ons hoe die Israeliete hulle moes voorberei om die Beloofde Land in besit te neem: nie deur hulle wapens reg te kry nie, maar deur besny te word as teken dat hulle aan God behoort, en deur die Paasfees te vier, om God se verlossing uit Egipte te herdenk.
Dit alles gebeur skaars ’n klipgooi van Jerigo af, net omtrent 2,4 kilometer. En dan volg daar ’n vreemde insident. Josua stap nader aan Jerigo om die toneel van hulle eerste geveg te bekyk. Skielik staan ’n Man voor hom met ’n ontblote swaard in die hand. Josua wou by Hom weet of Hy vriend of vyand is; of Hy vir of teen hulle gaan veg. Nee, antwoord die Man. Hy het nie gekom om te veg nie. Hy is in beheer van die oorlog.
Dis vandag nog so. God is nie vir of teen nie; Hy is God. Óns is die mense wat moet besluit of ons vir of teen Hóm is.