Wanneer jy ’n stad ’n lang ruk beleër terwyl jy daarteen oorlog maak om dit in te neem, moet jy nie sy bome verwoes en dit afkap nie, want jy moet die vrugte daarvan eet. Jy mag dit nie afkap nie, want die bome op die land is nie mense dat jy teen hulle moet veg nie. (vers 19)
Ons het op skool geleer van die sg. “verskroeide aarde”-strategie wat Lord Roberts, en later ook Horatio Kitchener, in die Anglo-Boereoorlog gevolg het. Alles is vernietig – huise, vee, landerye; en vroue en kinders is weggevoer na konsentrasiekampe, waar duisende vanweë die swak toestande dood is.
Die Egiptenare het destyds al hierdie soort strategie van totale vernietiging gevolg. God laat nie toe dat sy mense so optree nie. Hy sonder die vrugtebome uit, maar selfs die ander bome wat gebruik kon word vir beleëringswalle moes met omsigtigheid hanteer word, want die bome is nie mense nie (vers 19-20).
God is die Eienaar van sy skepping, en Hy beskerm sy wêreld. ’n Mens kan maar net wonder oor die afgryse in God se hart oor die moderne mens se verwoesting van die aarde. Dit skree teen die skeppingsopdrag om die aarde te bewerk en op te pas (Gen 1:28 en 2:15).