Wanneer jy deur die Jordaanrivier trek op pad na die land toe wat die Here jou God aan jou gee, moet jy groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit. (vers 2)
Dis merkwaardig op hoeveel maniere die Here die Israeliete gehelp het om te onthou dat hulle sy volk is. Die verbondsteken van die besnydenis; die voorgeskrewe feeste het hulle telkens herinner dat hulle die Here s’n is en dat Hy hulle verlos het; hulle moes klossies aan hulle klere vaswerk (Deut 22:12); hulle moes die gebooie op hulle deurkosyne en stadspoorte skryf (Deut 6:9 en 11:20).
In hierdie hoofstuk gee Moses opdrag dat afgewitte klippe met die gebooie daarop geskryf, op Ebalberg (dit is naby Sigem in die middel van die land) opgestapel moet word (vers 1-8) as ’n verdere herinnering aan hulle roeping om as heilige volk te leef.
Ons het vandag ook sulke herinnerings – die doop en nagmaal, die jaarlikse kerklike feeste, die teken van die kruis, die Bybel … genoeg om ons telkens te herinner dat ons God s’n is en vir Hom moet leef. Die vraag is net of ons daarop ingestel is om op hierdie herinneringe ag te slaan. Want dan sal ons geloof vars en innig bly.