Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek. (vers 1)
In hoofstuk 1 en 2 lees ons Job se verhaal en hoe die ellende op hom neergedaal het. Alles wat vir hom lief en dierbaar was, is van hom weggeneem – sy kinders, sy besittings, sy gesondheid. Dit word alles in prosa vertel. Maar hier, waar Job begin praat, is dit ’n diepgrondige gedig waarin hy die warboel van sy gemoed probeer verwoord.
Interessant dat sy eerste woorde nie ’n teologiese antwoord op sy krisis probeer gee nie. Hy probeer nie die skuld op God pak nie. Hy probeer nie sin aan sy lyding gee nie. Dié aspekte sal alles later in sy gesprekke met sy vriende aan die beurt kom. Vir die vriende was dit verstommend. Die aanvaarde teologie van hulle tyd (en selfs vandag nog) was tog duidelik: Job se skuld voor God het hom ingehaal, en hy kry sy verdiende loon (vgl Joh 9:2).
Job het dié soort redenasie geken, maar hy distansieer homself daarvan. Niks maak vir hom sin nie. Sy verstaan van die lewe is eenvoudig omvergewerp. Was hy maar dood, dan hoef hy dit nie te probeer verstaan nie.
In só ’n krisis help vriende se vermanings of simplistiese antwoorde nie; net matelose empatie.
Views: 16