Besin julle, moenie dat daar onreg geskied nie, besin julle, my saak is reg. (vers 29)
Miskien het jy ook al oor Job se volgehoue weiering om te erken dat hy skuldig is aan iets, gewonder. Ons glo tog dat almal van ons gesondig het en dat dit ons aan die heerlikheid van God ontbreek (Rom 3:23). Die enigste mens wat sonder enige sonde was, is die Here Jesus.
Job sê egter nie hy is sonder sonde nie; hy sê hy leef in die regte verhouding met God. Hy sê hy is ’n regverdige, dus. In die woorde van God self: hy was ’n vroom en opregte man. Dít was sy verweer teen sy vriende se aannames oor sy teenspoed. Hy het niks aan die onvanpaste raad van sy vriende nie. Dit is vir hom soos smaaklose kos wat hom nie troos nie (vers 6,7). Buitendien was hulle besoek blote pligpleging, en nie uit opregte medelye nie (vers 14,15).
Job se pleidooi is dat sy vriende hóm sal raaksien en sy woorde ernstig sal opneem (vers 28). Dít is uiteindelik die grootste behoefte by mense wat swaarkry. Nie goedkoop troos of misplaaste preke nie, maar opregte meelewing. Dís wat ons ons naaste skuld (vgl Rom 13:8).
Views: 10