Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. (vers 28)

Die Jode se woorde laat my dink aan moderne Christene wat baie gesteld daarop is dat húlle standpunt die Bybelse een is. “Ék staan op die Bybel,” sal so iemand maklik sê om daarmee alle standpunte wat van syne verskil, af te maak as onbybels. “Hier staan dit tog swart op wit!”
Die Bybel is egter ’n komplekse boek wat nie sommer maklik vir jou standpunt opgeëis kan word nie. Dieselfde Moses (d.i. die wet van Moses) waarop die Jode hulle beroep het, getuig immers van Jesus (Joh 5:39). Daarom sal dit ons goed doen om ons standpunte baie meer genuanseerd in te neem as om net ’n paar tekste ter ondersteuning van ons standpunte uit te lig. Dis immers wat die sektes doen; vandaar die gesegde: “Elke ketter het sy letter.”
Ja, natuurlik moet ons ons lewe op die Bybel grond, maar dan op die héle Bybel. Dís die uitdaging vir ons as gelowiges.
’n Veilige benadering is om eerstens te kyk wat Jesus oor ’n bepaalde saak geleer het, of hoe Hy mense hanteer het. As ons Hom volg, sal ons nie sommer verkeerd kan gaan nie.

image_pdfimage_print

Views: 12

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.