Waarom het U my u teiken gemaak? Waarom moet ek vir U ’n las wees? (vers 20b)
Job wend hom nou tot God, die Een wat, so glo hy, vir sy ellende verantwoordelik is. Hy vra niks van God nie, as dat Hy hom moet uitlos (vers 16) sodat die tyd wat hy nog oor het, sonder pyn sal wees. Maar terwyl hy wil hê God moet hom uitlos, is dit juis na God wat hy draai.
Toe hy met God begin praat, kan hy homself nie keer nie. Hy raak sarkasties (vers 17-19). Boonop peper Hy God met waarom-vrae (vers 20-21). En – God laat hom toe om sy hart uit te praat (of dalk sy mond uit te spoel). Want Job het hierdie ontlading nodig gehad. Dit was die begin van sy genesing.
Terloops, waarom-vrae bring ’n mens nie juis ver nie, en soos Job hier uitvind, kry jy nie eintlik ’n antwoord op dié soort vrae nie. Want die antwoord op ons vrae lê anderkant ons verstaan, soos Job ook nie geweet het van die gesprek tussen God en Satan nie. ’n Beter vraag om te vra is eerder: “Hoe?” Hoe kom jy deur jou krisis. Dáármee wil en kan God jou help, deur sy Gees.