Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. (vers 20)
Job, wat eens op ’n tyd ’n gesiene man was wat almal se respek afgedwing het, word nou verguis en gespot, selfs deur die laagste klasse van die samelewing (vers 12). Hy beskryf sy liggaamlike toestand grafies (vers 16-17), en God, eens sy hulp en krag, steur Hom nie aan Job nie (vers 20). Tog bly hy na God roep (vers 24).
As jy mooi let op wat Job hier sê, sal jy die Here Jesus op sy kruisweg herken. Hy is verag en verguis en mishandel (vgl die treffende profesie van Jes 53 oor die Lydende Kneg, veral verse 3 en 7). Aan die kruis het Hy (soos Job) dit uitgekerm (Matt 27:46): “My God, waarom het U My verlaat?”
Dís die prentjie wat jy moet sien as omstandighede dwing om jou te verpletter – die prent van Jesus se lyding. Daarom skryf Heb 12:3: “Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”
Jesus se lyding vang joune op en trek jou in sy lydensweg in, om saam met Hom ook jóú kruis te dra.
Views: 10