Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang, teen sy majesteit kan ek niks doen nie. (vers 23)
Job sluit sy saak af (vers 35, 40) deur hom op sy onskuld te beroep, en op sy dade van trou teenoor sy medemens (vers 13-23). Volgens die Here Jesus se eie kriteria (Matt 25:35-36) het Job presies gedoen wat hy veronderstel was om te doen. Daarom is hy verward oor sy eie haglike toestand, en raak hy bang vir God (vers 23), want niks maak meer sin nie, ook nie God se handelinge teenoor hom nie.
Job daag God hier uit om teen hom op te tree en só te bewys dat hy skuldig is. Láát daar dan gevolge vir sy slegte dade kom as hy skuldig is (vers 8, 10, 22, 40). So nie, laat God hom dan vryspreek. Dis wat hy pleit.
Job glo in sy onskuld, en ook aan God se regverdigheid. God moet finaal oordeel. Uiteindelik vra hy nie om sy ou lewe terug te kry nie. Hy pleit om ’n herstelde verhouding met God. Dit gaan vir hom oor God self en nie die voordele wat hy uit sy opregtheid voor God kan kry nie. Wat ’n voorbeeld!