O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! (Rom 11:33)
Die loflied (vers 33-36) waarmee Paulus afsluit, kom aan die einde van drie hoofstukke waarin hy oor die lot van sy volksgenote gewroeg het. Hulle het al die geleenthede gehad het om God se witbroodjie-volk te wees, maar het dit verbeur het omdat hulle nie die Messias wat God gestuur het, herken het toe Hy onder hulle geleef het nie (Joh 1:11). Dit is vir Paulus verskriklik sleg (9:1-3). Hulle soos takke wat van ’n boom afgekap is (11:17).
’n Mens sou verwag dat Paulus ’n treurlied oor sy volksgenote sou sing, maar hy doen dit nie. Hy breek uit in ’n loflied waarin hy God prys. Dit laat ’n mens dink aan die profeet Habakuk, wat ontredderd is oor die ellende van sy tyd, maar dan met ’n loflied afsluit en sê: “Nogtans sal ek in die Here jubel …” (Hab 3:17-19).
Ware geloof is wanneer God alleen genoeg is; wanneer jy juig oor God se besluite, al is dit anders as wat jy wou gehad het. Dís waarvoor ons moet bid – dat die Gees van God ons daar sal bring, soos Paulus in Fil 3:10 getuig.