Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. (vers 1)
God het ons nie maar sommer so in die bondel lief nie. Hy verlos nie so in die algemeen nie. Hy doen dit op ’n baie persoonlike manier. Daarom sê Hy: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” En vers 7 praat nie van almal, so in die algemeen, wat die Here sal verlos nie, maar van elkeen, elkeen afsonderlik, elkeen as ’n indiwidu, ’n eie persoon. God roep ons elkeen op die naam.
Want – en dit is die wonder – God stel in elkeen van ons persoonlik belang. God stel in jou belang waar jy worstel met ’n probleem, spartel met jou geldsake, stry teen Covid. God ken jou, en Hy weet presies hoe dit met jou gaan. Hy roep ook vir jóú op die naam.
God ken jou op die naam en wil met jóú ’n nuwe begin maak, al was jou verlede vol vaal kolle; al wás daar tye waarin jy lou of selfs koud was in jou verhouding met Hom. Hy kom sê ook vir jóú: Moenie bang wees nie, al was die afgelope tyd ook hóé.
Views: 64