Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn … (14:10)
Een van die grootste probleme in die kerk is dat sieninge oor tyd verhard tot strakke reëls. Die sg. ortodoksie, of regte leer, word bo alles belangrik. Intellek is bokant gevoel gestel; waarheid bokant liefde en omgee. Dis wat ná die Hervorming gebeur het. Die kerk het ’n koue en onbarmhartige plek geword waar mense maklik en dikwels veroordeel is omdat hulle nie presies reg geglo het nie. Reg glo was die hoogste goed, en op dié wat nié reg geglo het nie, is neergesien.
Dit was in dié tyd wat die Pinksterdienste in die NG Kerk begin het; ’n herlewing, terug na ’n warmer vorm van geloofsbelewing. Maar gaandeweg het ’n intellektuele verstaan van die Bybel weer na bo gebeur. Ons is weer in ’n vorm van ortodoksie vasgevang. Die Bybel word ’n wapen waarmee ander geslaan word.
Dit was die situasie in die kerk in Rome ook (vers 10). As ek Paulus reg verstaan, is hy nie soseer besorg oor die regte beskouing as dit by etiese kwessies kom nie. Belangriker is dat jy jou naaste met respek en liefde behandel.