Toe vra die Here vir my: Wat sien jy, Jeremia? en ek antwoord: “Vye. Die goeies is baie goed en die slegtes baie sleg, hulle is so sleg dat ’n mens hulle nie kan eet nie.” (Jer 24:3)
Nebukadnesar het in 597 vC die room van die bevolking na Babel weggevoer (vers 1). In die plek van koning Jojagin het hy sy oom, Sedekia, as koning aangestel om oor die Jode wat agtergebly het, te regeer. Hulle (die agtergeblewenes) het gereken dat die Jode wat Babel toe is, hulle verdiende straf gekry het. Hulle was die mandjie vrot vye, en die Jode wat in die land gebly het, die goeies wat God se oordeel vrygespring het.
Dis nie vreemd dat hulle so gedink het nie. Ander dra immers altyd die skuld, nie jy nie. (Lees gerus in Luk 13:1-5 hoe die Here Jesus mense wat só redeneer, kortgevat het.) Nee, sê die Here vir Jeremia. Koning Sedekia en die mense wat agtergebly het, is die vrottes waarmee Hy niks kan maak nie. Die goeie vye het Hy weggevat Babel toe, want daar kan Hy nuut met hulle begin (vers 5-7).
Wat het Jesus nou weer gesê van die balk in jou eie oog (Matt 7:5; vgl Pred 7:16 (OAV))?
Views: 8