Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. (Hag 2:4)
Die bouwerk aan die tempel het in alle erns begin, maar die nuwe tempel het baie sleg afgesteek teen die glorie van Salomo s’n (vers 3). Dit was om van te huil (Esra 3:12). Nou kom die Here by monde van Haggai en herhaal die beloftes wat Hy tydens die uittog gemaak het (vers 5). Die verwysing na die uittog is gepas, want dit was tydens die Huttefees (wat die uittog herdenk) wat Haggai optree.
Twee maande later praat Haggai weer (vers 10), dié keer direk met die priesters oor die rede vir die mislukte oeste (vers 11-19). Die probleem, sê hy, is dat hulle met offers voortgegaan het terwyl hulle ongehoorsaam was aan die opdrag om die tempel te herbou. Eers as hulle weer die bouwerk hervat, kan hulle die seën van die Here verwag. Dit was ook die Here se woord aan koning Saul (1 Sam 15:22).
Aan die ander kant: Dié wat getrou en gehoorsaam aan die Here is, ontvang sy seëninge.
Naskrif: Môre begin ons met die brief aan die Galasiërs.
Views: 10