So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, farao, koning van Egipte, groot krokodil wat rustig in jou rivier lê en sê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak!’ (Eseg 29:3)
Een kommentator merk op dat hierdie vier hoofstukke verskriklik is om te lees. Inderdaad. Want dit vertel van ’n wêreld wat die koers verskriklik byster geraak het, met Egipte en sy farao aan die voorpunt. Die konings van Juda het meermale na Egipte as wêreldmoondheid gekyk om hulle te help teen ander groot moondhede (teen die Here se uitdruklike waarskuwing in), en elke keer het Egipte hulle in die steek gelaat (29:6-7).
Die grootste probleem met Egipte was egter hulle misplaaste grootheidswaan. Die farao het homself as god voorgedoen. Hy het die Nyl gemaak, sê hy (29:3). Hy het hooghartig geword (31:10). Dit herinner aan koning Herodes Agrippa se einde toe mense hom ’n god genoem het en hy hom dit laat welgeval het (Hand 12:21-23).
’n Refrein wat in hierdie vier hoofstukke nege keer (29:6, 9, 16, 21; 30:8, 19, 25, 26; 32:15) opklink, help ons die boodskap verstaan: “(Dan) sal hulle besef dat Ek die Here is.”
Jahwe, en nie die konings van hierdie wêreld nie, is in beheer. Ook vandag.
Views: 16