Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders, en gebid. (2 Kron 33:12-13a)
Manasse was een van die slegste konings van Juda. Waaraan jy ook al kan dink, dit het hy gedoen. Baäl-aanbidding, gewyde pale, verering van die hemelliggame, goëlery, waarsêery, toordery, oproep van geeste, verbranding van sy eie seuns … Noem maar op. Hy het selfs ’n afgodsbeeld binne-in die tempel opgestel (vers 7). Die Konings-boek vertel dat Jerusalem van hoek tot kant vol bloed was, só baie mense het hy laat doodmaak (2 Kon 21:16). Volgens oorlewering het hy selfs die profeet Jesaja in stukke laat opsaag (vgl Heb 11:37).
Hy het hom nie aan die waarskuwings van die Here gesteur nie (vers 10). Eers toe hy met hake deur sy neus en in kettings geboei in Babel beland het en waarskynlik daar erg gemartel is, het hy hom bedink. Die gode wat hy gedien het, het hom nie in sy nood gehelp nie. Soos die verlore seun in die gelykenis het hy tot inkeer gekom en hom tot God gewend. En – God herstel hom in sy koningskap!
Dis sowaar nooit te laat om na God te draai nie.