Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. (Ps 2:4)
Hierdie psalm is een van die sogenaamde koningspsalms, waarin God se besondere verbintenis met die Dawidiese koning van Israel, en sy waaksame sorg oor hom besing word. Die koning regeer nie in sy eie naam nie, maar is daar as agent en instrument van God self. Daarom, as iemand die koning uitdaag, daag hy daarmee eintlik God se gesag uit.
In die lig van God se almag en beskikking is die nasies en hulle leiers se aanmatigende houding eintlik lagwekkend. God is in beheer, en Hy sal met hulle afreken as hulle Hom nie erken nie.
Ons lewe nie meer in ’n wêreld waar die koning ’n gesalfde is nie, en waar die regeerders aanspraak kan maak op God se spesiale guns (soos koning Dawid) nie. Ons het nie ’n teokrasie, waar God die eintlike Koning is nie. Tog het die uitsprake van die koningspsalms alles te make met Jesus, die Koning van die kerk, wat uiteindelik ook die Koning van die ganse skepping sal wees (Ef 1:10; Fil 2:9-11).
Wat beteken die belydenis dat Jesus Koning is, vir jou in jou alledaagse lewe?
Naskrif: Môre begin ons lees aan die Brief aan die Filippense.
Views: 10