Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. (Fil 3:20)
Toe my oudste broer die eerste keer skool toe is, het hy lelike woorde begin gebruik. My ma wou weet waar hy aan dié lelike woorde kom, en hy antwoord windmakerig: “Ma, dis hoe ons by die skool praat.” Toe sê my ma: “Die kinders by die skool mag miskien so praat, maar ons praat nie so nie, want ons is anders.”
Dís ’n burger van die hemel. Ons is Jesus se mense, en ons is anders. Ons maak nie maar soos almal nie. Ons maak soos ons Koning.
Ek het gehoor van ’n sendeling in Indië. Hy het ’n seun gesien wat lemoene verkoop, netjies opgestapel in ’n piramide. Iemand het in die verbyloop aan sy lemoen-stapel gestamp, en daar rol die lemoene die wêreld vol. Die arme seun het probeer om die lemoene bymekaar te kry, maar daar was net te veel mense. Toe die sendeling dit sien, het hy op sy knieë gegaan en saam met die seun die lemoene bymekaar gemaak. Toe hulle klaar is, vra die seun vir die sendeling: “Is jy Jesus?”
Lyk jý soos jou Koning?
Views: 13