Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! (vers 2)
Wanneer laas het jy in die nag na die sterrehemel opgekyk? Nie net ’n vinnige kykie nie, maar lank en innig? Gaan op ’n helder aand buitentoe en gaan lê op jou rug, sodat jy goed kan kyk; die skouspel kan indrink. Dis mos wat God vir Abram gesê het toe hy aan God se beloftes begin twyfel het (Genesis 15:5): “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.”
Wanneer ’n mens só na die sterrehemel kyk, roer daar iets hier binne-in jou. Die ontsagwekkendheid van die sterrehemel, die ontelbaarheid van die sterre, die grootsheid van die liggies wat oral glinster, jubel dit uit dat God groot is. Niemand kan regtig bepaal hoe groot die hemelruim is nie; trouens, volgens alle aanduidings dy dit steeds wyer uit! En God se vingers het dit alles gevorm.
Dawid verwonder hom oor die grootsheid en skeppingsmag van God. Dis sý skepping, sý handewerk. En die onbegryplike is dat Hy dit alles tot ons beskikking stel om te geniet en te koester. Hy gee sy kunswerk, sy meesterstuk, vir ons!
Views: 12