Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. (Heb 4:9-10)
As ons aan die sabbat dink, dink ons outomaties aan die dag van die Here, een maal per week, wat ons Sondae vier. Maar vir die Hebreërskrywer is die sabbat veel meer. Dis nie bloot ’n rus van harde werk een maal per week nie, maar om jou lewe in lyn te bring met God se ritme. Hy het immers ná sy skeppingswerk van ses dae, op die sewende dag gerus. Dit gaan daaroor dat ons rus moet vind in God se voltooide werk in Christus; dat ons sy verlossing (en nie onsself nie) sal vertrou. Soos vers 11 sê, ons moet ons beywer om in die rus in te gaan deur op te hou om in eie krag te stry. Dit vra dat ons Christus se verlossing volledig moet omhels.
Só beskou wys die sabbat heen na die ewige rus wat Christus se verlossing gebring het. Dit bring ’n einde aan ons eie vrugtelose pogings om ons saak met God reg te stel. Christus bring vir ons rus; Hy ís ons rus.