Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek: “Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop?” (Hand 3:12)
Een van die kenmerke van die boek Handelinge is die baie toesprake wat die apostels gelewer het. Veral Petrus is aanvanklik gereeld aan die woord (Hand 2:14 ev; 3:11 ev; 4:8 ev). As ’n mens in ag neem dat die apostels, en Petrus by name, ’n eenvoudige man was en nie geleerd nie (4:13), is dit nog merkwaardiger. Hulle het elke moontlike geleentheid gebruik om te praat oor die hoop wat in hulle leef (vgl 1 Pet 3:14-15; vgl 2 Tim 4:2).
Dié vrymoedigheid het natuurlik gekom van die Heilige Gees wat van hulle besit geneem het, soos Jesus belowe het (1:8). Die Heilige Gees het hulle verander tot kragtige instrumente in God se hand.
Die lewensveranderende werk van die Gees het natuurlik nie by die apostels opgehou nie, soos Paulus ons verseker (Ef 1:18-20). Tog ervaar ons dit dikwels (meestal?) nie. G’n wonder nie dat Paulus skryf dat hy bid dat die Here ons geestesoë sal verhelder sodat ons uit die krag van die Gees kan begin leef.