Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. (Hand 10:44)
Om te getuig van die liefde van God wat sondaarmense kan verander in verloste kinders – dis nie ’n keuse nie. Dit is ons roeping. Dit is deel van gelowige wees. Ons mag dit nie aan ander oorlaat nie, want dis ons taak ook. So wat staan ons te doen? Kom ons kyk wat sê Hand 10:
Petrus het stiltetyd gehou (vers 9). Daarsonder kan jy nie ’n werktuig vir God wees nie.
Petrus was gehoorsaam aan die leiding van die Here deur sy Gees. Hy het opgestaan en gegaan toe die Here dit gesê het (vers 19-21). Reageer jy op die Here se stem? Daardie influistering wat vir jou sê jy moet ’n slaggie by dié of daardie een uitkom? Maak daardie oproep, bring daardie besoek, stuur daardie sms – dis die Here wat jou so wil lei.
Petrus het die Here toegelaat om sy eie vooroordele weg te vat (vers 28-29). Daarom kon hy dinge doen wat hy op eie inisiatief nooit sou doen nie.
Petrus het nie alles op sy eie probeer doen nie; daarom vat hy ander gelowiges saam met hom (vers 23) – saam is ons beter!